Gebalanseerde verhoudingsareas

Gebalanseerde verhoudingsareas


3.1 Geestelike lewe
 

Jy verstaan jou vryheid van ‘n emosioneel volwasse karakter in jou geestelike lewe. In jou verhouding met God, het jy jou lewensdoel ontdek. Jy leef nie net in afhanklikheid van God se voorsiening nie maar ook onafhanklik in jou karakter wat beteken, God kan ook jou oordeel in besluitneming vertrou in julle verhouding. Jy besef jy is uniek en omdat God jou oordeel kan vertrou in besluitneming, daarom vertrou God jou ook met Sy uitsonderlike plan vir jou lewe.
 

3.2 Emosie
 

Verbeel jou emosionele onafhanklikheid. Jy leef jou emosioneel volwasse karakter moeiteloos teenoor jou persoonlike verhoudings. Jy vertrou jou verhouding met jouself. Jy het nie mense en/of dinge nodig om jou vry en gefokus te laat voel in die lewe nie. Dit kom van binne jouself, jou eie identiteit. Die verlammende emosies van individue rondom jou, beïnvloed nie jou onafhanklike verhoudingsvisie nie, maar jou motiverende emosies beïnvloed hulle. Jy leef waardig in jou verhoudings en daarom selfversekerd. Jy leef vry van mense se negatiewe invloed, opinies en kritiek, m.a.w. vry van emosionele gevangeneskap. Jy verstaan die onafhanklike samestelling van jou emosionele DNA as individu.
 

3.3 Liggaam
 

Stel jou voor hoe gebalanseerd jy liggaamlik leef: Jy verstaan jou onafhanklike verhouding met jou liggaam en jou liggaamsdoel vir jou lewe, ongeag van hoe jy lyk. Jou liggaam is baie spesiaal vir jou. Jy het jou liggaamlike identiteit ontdek en laat nie toe dat mense jou misbruik tot bevrediging van hul eie selfsugtige begeertes nie. Jy leef as ‘n gebalanseerde individu in verhouding met jou liggaam en respekteer jouself. Jou liggaam is uniek en pas perfek in die visie wat God vir jou het as individu.
 

3.4 Sosiaal
 

Verbeel jou ‘n gebalanseerde geestelike, emosionele en liggaamlike verhouding met God: Jy kan sosialiseer met ‘n gebalanseerde leefstyl waarmee jy veilig voel. Dink net met hoeveel selfversekering jy kan ontspan, want jy ken jou perke. Jy kies vriende wat jou waardes en norme deel. Jou emosioneel volwasse karakter weet hoe om mense te lei en met jou standaarde te beïnvloed.
 

3.5 Finansies
 

Jou onvoorwaardelike verhouding met die laaste vier verhoudingsareas help jou om jou finansiële lewe onvoorwaardelik te balanseer. Finansies is die enigste area sonder ‘n siel en jy kan nie daarmee in verhouding staan nie. Slegs wanneer die vorige vier areas, nl. jou geestelike lewe, jou emosie, jou liggaam en jou sosiale lewe ‘n balans handhaaf met mekaar, sal jou finansiële lewe die voordeel geniet van ‘n gebalanseerde verhoudings leefstyl. ‘n Groot uitdaging in vandag se wêreld is om jou finansiële lewe onvoorwaardelik te balanseer teenoor jou persoonlike verhoudings.
 

Onthou
 

  • Geld se prominentste kenmerk is sy mag in jou lewe en nie sy vermoë om jou verhoudings onvoorwaardelik te balanseer nie.
  • Geld versus verhouding is in ‘n lewenslange stryd gewikkel tot oorwinning.
  • ‘n Emosioneel volwasse karakter oorwin as gevolg van ‘n gebalanseerde emosionele DNA.
     

3.6 Ongebalanseerde finansies
 

Die stelling - "finansies het nie ‘n siel nie", het sekerlik jou aandag getrek.

LOST sal onverantwoordelik wees indien hy nie die risiko’s en perspektief aangaande jou finansiële lewe bespreek nie. Finansies is sonder ‘n siel en kan dus nie in verhouding staan tot jou nie, maar gee jou wel mag. Stel jou voor finansies in die hande van ‘n individu wat nog nie emosionele volwassenheid bereik het in een of meer verhoudingsareas nie.

As gevolg van so ‘n individu se onvermoë om te identifiseer met die gesamentlike voordele van die eerste vier verhoudingsareas, sal finansies en die mag wat daarmee gepaard gaan ‘n groot trekpleister wees. Finansies gee die individu met ‘n gebrek aan selfwaarde ‘n mate van waardigheid, en daardeur ontstaan die risiko om meer voorwaardelike verhoudingsbesluite te neem ten koste van gebalanseerde verhoudings. Die individu mag moontlik ander individue finansieel beheer in die hoop om guns te wen, maar dit bly ‘n pad van emosionele eensaamheid.

Die houvas wat geld op ‘n individu het, beïnvloed ook sy karakterontwikkeling in verhoudings. Die individu loop ‘n gevaar om met al sy geld en mag in emosionele eensaamheid te leef tussen baie mense. Geld is ‘n eensame god en jy loop die gevaar om baie eensaam te wees indien finansies vir jou belangriker is as ‘n gebalanseerde verhouding in jou geestelike lewe, jou emosies, jou liggaam en jou sosiale lewe. LOST wil weer beklemtoon, hoewel finansies ‘n groot uitdaging is vir gebalanseerde karakterontwikkeling, is dit moontlik om finansieel onafhanklik te wees én ‘n onvoorwaardelike verhoudings leefstyl te leef, maar dit is slegs moontlik indien die eerste vier verhoudingsareas balanseer.
 

Onthou
 

  • Geld kan nie jou emosionele behoeftes vervul deur sy mag nie.
  • Geld is self-gesentreerd en dus verhoudingloos.

     
© Kopiereg LOST 2018. Alle Regte Voorbehou.
Geen artikel of foto mag gedupliseer of gepubliseer word sonder die toestemming van LOST.